Fine and Country Lowveld South of Kruger has arranged and manages newsfeed onto this portal from the local newspaper the Corridor Gazette
The Good, the Bad and the Ugly was daar, asook regte cowboys en Indiane! Komatipoort Akademie se graad 12’s het verlede Vrydag 'n western/country-aand by die Sitting Duck Saloon in die skousaal aangebied.
Prettige dekor het gesorg vir pragtige foto's - daar is afgeneem in die "bath house" se bad en die waaghalsiges het "interaktiewe" foto's by die galg laat neem. Die Rodeo Girls, 'n lyndans-groep van Pretoria was die sterre. Daar is lanklaas so lekker in die skousaal gedans en gelag. Die dansers het hulself oortref en die hele aand was sowat 80 persent van die toeskouers op die dansbaan doenig om nuwe country-passies aan te leer.
Daar was regte cowboy-kos waaraan die gaste en deelnemers kon smul. Vrygewige borge van Malalane en Komatipoort het gesorg vir verrassingspryse en gelukkige trekkings. Na die Rodeo Girls se optrede is daar tot laatnag gedans. Die groep het die geleenthed self so geniet dat hulle eers met die speel van die laaste dansnommer na Die Stoep Gastehuis is om te oornag. Die eienaars was ruimhartig en het gesorg dat hulle na 'n lang rit en baie dans, heerlik kon rus voordat hulle Saterdagoggend ná 'n plaasontbyt die lang pad terug Pretoria toe aangedurf het. Elkeen se bydrae, of dit nou hulp of rande en sente was, word waardeer. Wie weet - dalk doen ons dit volgende jaar weer!
"This news item is brought to you by Fine and Country, Lowveld – South of Kruger, with the compliments of Corridor Gazette."